“Ons het dadelik vertrek en toe ons daar aankom het ek geleer dat ons vergadering met Lucifer was. Satan het vir ons die volgende instruksies in die vergadering gegee: Om teen die gelowiges te veg en nie die ongelowiges nie omdat die ongelowiges reeds syne was. Toe hy dit gesê het, het een van ons gevra: ‘Hoekom’. Hy het gesê omdat dat God hom uit ‘daardie plek’ gegooi het, (hy het geweier om die woord ‘hemel’ te gebruik en vir die res van ons vergaderings met hom het hy nooit melding gemaak van die woord ‘hemel’ nie), en daarom was die visie dat geen Christen daarheen moes gaan nie. Hy het altyd woorde soos ‘daardie plek’ gebruik, as gevolg van trots.
“Hy het ook vir ons gesê dat ons nie teen die skynheiliges moes veg nie. ‘Hulle is soos ek’ het hy gesê. Hy het voortgegaan met sy toespraak en het gesê dat sy tyd naby was; daarom moes ons soos nog nooit tevore veg en seker maak dat niemand by ‘daardie plek’ in gaan nie! Een van ons het vir hom gesê: ‘Ons het gehoor dat God iemand gestuur het om die mensdom te red.’ Satan het gevra: ‘Wie is dit?’ Een lid het geantwoord: ‘Jesus!’ En tot ons verbasing het Lucifer van sy stoel af geval. Hy het op die man geskree en hom gewaarsku om nooit daardie naam in enige van ons vergaderings te noem nie, veral as hy sy lewe lief het. Dit is waar dat elke knie voor die naam van Jesus moet buig (Fil. 2:10), Satan ingesluit.”
(Losweg vertaal)
Die woord van God is waar! Elke knie, Satan ingesluit, moet buig voor die naam van Jesus. Wat anders wil jy hoor? Sy naam maak ook die deure van die hemel en seëninge vir ons oop. Dit was waarom Jesus gesê het dat enigiets wat jy in Sy naam vra sal aan jou gegee word. Dit is die sleutel om God se hart, Sy genade en skatte oop te sluit. Dit sluit ook die hekke van die hel, maar maak die hemel vir ons oop. Kom ons gaan oor na die bloed van Jesus en meer getuienisse.
Hoofstuk 7
Die Bloed van Jesus
“En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het.”
Openbaring 12:11
“… Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die Herder van die kudde geword het…”
Hebreërs 13:20
Nog ʼn baie kragtige wapen wat God aan ons gegee het is die bloed van Jesus Christus. Wanneer ʼn gelowige die bloed van Jesus pleit word hulle outomaties beskerm teen die aanvalle van Satan en sy agente. Sy bloed herinner Satan en die demone van hul nederlaag by die kruis. Die bloedvergieting van Christus aan die kruis, Sy dood, en daaropvolgende opstanding het ons teruggebring na God toe en het ook die ewige straf van Satan en sy gevalle engele verseël. Ek is seker een van die dinge waaroor die duiwel vir ewig spyt sal wees is die feit dat hy Jesus na die kruis toe gestuur het.
Trouens, die Bybel sê dat as hy (die duiwel) geweet het, sou hy nie die Here van heerlikheid vermoor het nie. Die bloed van Jesus, onbekend aan die duiwel, was wat nodig was om die ewige verbond tussen God en ons te verseël. En as jy eers daardie verbond aanroep is die duiwel ongeorganiseerd, ontwapen, en verneder. Dit is presies wat die skrif sê. Kyk na Kolossense 2:15:
“So het Hy die regeerders en gesagvoerders ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.”
Het jy dit? Die offergawe van Jesus Christus se bloed aan die kruis het die duiwel ontwapen en verneder. So, wanneer jy die bloed van Jesus pleit, is dit presies wat jy doen. Jy neutraliseer die magte en aktiwiteite van Satan. Jy maak hom nutteloos, magteloos, en jy bring ook skande oor hom. As dit so is, sê dan vir my hoekom hy nie bewerig moet raak as hy Sy bloed sien of van hoor nie?
Kom ons kyk weer na ʼn getuienis van Evangelis E.O. Omoobajesu. Hierdie voorval het gebeur toe hy nog vir Satan gedien het:
“Toe het ek die vierde van die owerste geeste in die regering van Satan geroep, wie se naam Belial is. (Enige plek waar jy ʼn paar mense sien versamel of ʼn vergadering hou of ʼn dans party hou, en later begin hulle baklei met stoele of banke en swepe of dalk sny hulle mekaar se liggame met ʼn mes of gebreekte bottels, dit is Belial, die demoniese gees wat hulle besoek het. Dit is sy funksie in die sataniese orde, om rusies te veroorsaak, of dit nou in ʼn gesin, met vriende of selfs in ʼn gemeenskap is).
“Ek het hom beveel: ‘Gaan vorentoe en werk aan hulle om te begin veg. Ek het vir myself gesê dat hulle hulself opwekkingspredikers noem. Wanneer hulle mekaar met banke begin aanval sal dit die volgende dag hoofnuus wees in die koerante, “Herlewing word ʼn algemene bakleiery.’ ‘Gaan aan,’ het ek vir die duiwel gesê. Hy het ʼn paar vinnige treë geneem en gestop. ‘Wat is fout?’ het ek verneem. Hy het my gevra om te kom kyk en ek het in beweeg om weer te kyk. Hierdie keer het ek nie meer vuur gesien nie, maar BLOED. Die hele plek het soos ʼn slagpale gelyk waar miljoene diere vars geslag was.
“Dit was asof al die mense in die vloeiende rivier van die bloed gedompel was. Hy het vir my gesê: ‘Dit is die BLOED van die Lam van God.’ Maar omdat ek hom nie verstaan het nie, het ek hom weer gevra, spottend: ‘Jy bedoel dat God ʼn skaap het en dat Hy dit doodgemaak het en die bloed daarvan maak jou nou bang? Ek het ook skape by die huis. Ek sal dit later vir jou doodmaak, sodat jy die bloed kan drink.’ Maar hy het gesê dat dit nie so was nie.
“Hy het gesê: ‘Dit is die BLOED van die Lam van God wie die sonde van die wêreld wegneem!’ Hy het bygevoeg: ‘Niks in hierdie wêreld of in enige departement kan daardie bloed in die gesig staar in ʼn geveg nie.’ So hy het prontuit geweier om voort te gaan en ek het hom ook weggejaag.”